Mel Botes se musiek weerspieël sy passie, uitbundige kreatiwiteit en ondersoekende denke. Hy bevraagteken alles: sin en doel, maar ook bewustheid, realiteit en grense. Dis vol kontraste – soms meesleurend, bittersoet, seermaak-mooi, weemoedig; dramaties, majestueus, besielend; soms ontstellend; onstuimig, met klankontploffings wat verras; soms vreemd, selfs onheilspellend … maar NOOIT vervelig nie.
Mel Botes is in Klerksdorp gebore en hy het op Zeerust en Rustenburg grootgeword. Toe hy agt jaar oud was, het hy sy eerste kitaar by sy pa, ook ’n musikant, present gekry. Sy droom en passie was om ’n professionele musikant te wees – ’n droom wat waar geword het en ’n passie wat onmiskenbaar is in alles wat hy aanpak.
Hy het later klassieke kitaar by onder andere Charl Lamprecht geneem en ook les gehad in jazz en blues. Die invloed hiervan is duidelik waarneembaar in sy werk. Voeg daarby sy bewondering vir Beethoven en Vivaldi, elemente van Pink Floyd, Sting, Bob Dylan en Mark Knopfler en Mel se verstommende vermoë om telkens te verras met die manier waarop hy grense versit … en jy kry ’n idee van wat sy musiek inhou.
Mel het in al verskeie orkeste gespeel, twee jaar in Europa gereis en onder andere in Switserland, Nederland, Spanje en Brittanje opgetree. Hy het ’n unieke, persoonlike styl en is ’n uiters begaafde liedjieskrywer, komponis, sanger en kitaarspeler uit eie reg – ongetwyfeld een van Suid-Afrika se beste. Tans is hy sinoniem met kreatiewe en innoverende musiek in Suid-Afrika. Hy beskik oor uitsonderlike talent as komponis en is in staat daartoe om die musiek te komponeer terwyl hy die teks lees.
In 1999 het hy met sy epiese musiekproduksie David’s Confession naam gemaak. Hy het al die lirieke en musiek daarvan geskryf en dit het sewe jaar geduur om dit te voltooi. Die eerste van vier hoofstukke van hierdie futuristiese musiekdrama “About Time” is by Sun City opgevoer en ’n gelyknamige album is in 1999 by Bop Studios opgeneem. Die album word beskou as die hoeksteen van Suid-Afrikaanse rockmusiek en ’n mylpaal in die geskiedenis van plaaslike musiek. Vir iemand wat die voorreg gehad het om daarna te luister, sal dit nie verbasend wees dat dit intussen kultusstatus verwerf het nie.
In 2000 is hy as die algehele wenner in die kontemporêre afdeling uit ’n groot aantal inskrywings in Beeld/Geraas en Janus Musiek se Vuurdoopliedjiewedstryd aangewys. Die wedstryd word in samewerking met Select Musiek en RP Studios aangebied. Sy liedjie “As” was die wenliedjie.
Oomblik van waansin is Mel se eerste Afrikaanse album en het voortgespruit uit sy aanwysing as Vuurdoopliedjiewenner van 2000. Die album is hoofsaaklik by RP Studios in Aucklandpark opgeneem en spog met ’n suiwer, akoestiese klank. Gesoute musikante ondersteun hom op hierdie album. Clinton Waring kan op die klawers en klavier gehoor word, Leon Ecroignard speel die baskitaar en Vinnie Henrico speel die dromme en perkussie. Denny Lallouette lewer insette op die baskitaar op die liedjies “Stormsee”, “Oomblik van waansin” en “Vir altyd” en Mathys Maree speel die addisionele klawers op “Oomblik van waansin” en “Vir Altyd”. Julian Wiggins speel die keltiese fluit en bodhran en Jolette Odendaal, Anna Davel en Petronel Baard sorg vir die agtergrondsang op die liedjie “Stormsee.” Mel speel die akoestiese en elektriese kitare op die album en was ook verantwoordelik vir die regie en verwerkings. ’n Juweel op die album is ’n duet “As (deel II)” wat hy saam met nog ’n kitaarmeester, Mauritz Lötz speel.
Mel is in 2001 in drie kategorieë van die Geraas Musiek-toekennings (GMT) vir Oomblik van waansin benoem – Beste Vervaardiger, Beste Liedjieskrywer en Beste Kontemporêre Album. Hy is uiteindelik as die Beste Liedjieskrywer bekroon. In 2002 het hy die amptelike Aardklop-liedjie “Aartskind in ’n winterwoud” geskryf.
Hy en Clinton Waring behartig die begeleiding in die reekse van die kykNET-program Dis hoe dit is… met Steve. Dit was in 2002 die gewildste reeks op kykNET. Hulle het ook in die volgende reekse wat in 2003/2004 verfilm is, onderskeidelik agter die kitaar en die klawers ingeskuif. Dit verg besonderse musikale vermoëns, want die program word lewendig opgeneem en daar is nie kans vir oefen nie.
In 2003 het Mel sy debuut as akteur in Jan Scholtz se dramareeks vir KykNET, Song vir Katryn, gemaak. Hy vertolk die rol van Slab, ’n dokter-musikant, in die reeks en Valiant Swart vertolk die hoofrol van Jinx, sy pêl. Die klankbaanalbum is in 2004 vrygestel en genomineer vir verskeie plaaslike musiektoekennings. Mel is genomineer in die kategorie Liedjieskrywer van die Jaar vir die liedjie “Katryn”. ’n Tweede reeks het gevolg en daarin het Mel ’n aansienlik groter rol gespeel en ook die klankbaan met Valiant Swart gedeel. Mel het ’n bydrae van 7 snitte gemaak.
Dit is noemenswaardig dat hy een van die min Suid-Afrikaanse musikante was wat deelgeneem het aan mnr. Nelson Mandela se 46664-konsert. Hy moes saam met ’n sesstuk-orkes optree en dit het hom die geleentheid gegee om te wys tot watter skaal hy in staat is. Hy was ook een van die kunstenaars wat by meneer Mandela se verjaardagseremonie op Ellispark in 2005 opgetree het.
Die lankverwagte album getiteld Flight of Bird is in 2005 voltooi na drie jaar se harde werk. Dit is in Oktober 2005 by Aardklop opgevoer en het ’n sensasie veroorsaak. Die multidimensionele kombinasie van lewendige musiek, drama en dans teen ’n multimedia-agtergrond van video, animasie, strokies en kunswerke is as een van die top-tien vertonings aangewys en genomineer vir die Anglo American Ashanti-toekenning. Dis in die feeskoerant van 27 September beskryf as een van die beste musiekproduksies wat Aardklop nog ooit beleef het.
In Flight of Bird kom Mel se veelsydigheid en fenomenale talent as komponis, musikant en liedjieskrywer weer eens ten beste na vore. Dit is al vergelyk met War of the Worlds, ’n musikale weergawe van Star Wars, die fantasie van Lord of the Rings, die romanse van Casablanca en die poëtiese afgryse van Apocalypse Now. Dit is die epiese verhaal van een man se stryd in ’n wêreld vol avonture en uitdagings. As mens gedwing sou word om hierdie album op te som, sou die volgende woorde uit die lirieke dalk ’n goeie begin kon wees: Lose yourself … imagination …
Mel het verskeie stukke musiek vir ’n maatskappy met die naam Witch and Wizard geskryf, soos die temalied vir die opening van die Afrika-spele in 2005, die advertensies vir Viagra en Citroën, die bekendstelling van die Ford Icon en ABSA se The Four Elements. Die musiek vir SABC 1 se Soul City en van die musiek in die Bill Flynn-produksie – “Running Riot” is ook deur hom geskryf.
’n Nuwe album, Mel Botes in Namibia, word volgende vrygestel. Die dokkie van Mel se (selfgefinansierde) toer deur Namibië is met die bekende Johan Lategan se hulp verfilm en in 2004 deur KykNET gekoop en word periodiek gebeeldsaai.
Hy is gevra om al die musiek te skryf vir ’n nuwe dramareeks, Dryfsand, deur PG du Plessis. Dit is huidiglik op KykNET te sien, en Andries Plak Vrydae op SABC 2. Chris du Toit se fliek, Hitchhiker, sal ook spog ook met musiek deur Mel. Julle wat “Ouma se Slim Kind” gaan sien – kyk uit vir “Reënvoëls” ens
ens ....
’n Aantal jaar gelede het die organiseerders van Aardklop hom gevra om die eerste Afrikaanse rock-opera te skryf. Op daardie stadium het hy dit S.T.O.R.M. 20X0 n.C. genoem. Die produksie en konsep is oor die afgelope vier jaar verder ontwikkel, voltooi en heet nou: Stem/Vote SSPP – die storie van Herrie Vermeen. Die storie handel oor die karakter Herrie Vermeen wat op ’n dag besef dat hy oor die vermoë beskik om met ander elemente en wesens te kommunikeer. Hy ontvang ook vreemde openbaringe en visioene wat van oral na hom gestuur word.
Mel se geniale talent kan nie in woorde beskryf word nie; dit moet ervaar word. Toe, jy word uitgedaag… |