1998 – ‘N STER BLINK
In 1998 het haar sangloopbaan met alle erns begin – met haar debuutalbum Juanita. Daardie jaar wen sy die CMA (Country Music Association in Namibië) se toekennings as die beste sangeres, die beste liedjieskrywer en dié vereniging se president toekenning vir uitsonderlike prestasie. In daardie stadium was Juanita toe al lid van Jupidu, saam met haar man, Doepie, haar broer Pieter, en hul vriend Rennie Strauss. Jupidu was uiters gewild by Namibiërs, maar haar reeks toekennings en ‘n bedrywige naweekdagboek was nie vir Juanita genoeg nie. Sy het toe al geweet haar liedjies is stérk genoeg. Sy het bloot aanhou skryf, met die wete ‘n nuwe album sou haar die deurbraak besorg waarop sy wag. Maar sy het nie geld daarvoor gehad nie.
Gelukkig het baie invloedryke mense haar talent geëien en sy kon genoeg borge werf om ‘n CD op te neem. Die album Ek en Jy is gebore – met Ska-Rumba as ‘n bonussnit... In 2000 onderhandel sy en die platebaas Pierre van der Westhuizen van Maroela-Musiek. Pierre het onmiddellik geweet Juanita kán ...
Hy’t haar ‘n platekontrak aangebied en die album ook in Suid-Afrika uitgereik. In 2001 bereik die album dubbelplatinumstatus (met verkope van oor die 100 000) en sy wen twee SABC2-Geraas toekennings: album van die jaar en liedjie van die jaar: Ska-Rumba. In 2002 word haar derde album, Dis Waar Ek Wil Wees (met die treffer Patayo) uitgereik, en Juanita se drome word die een na die ander bewaarheid. Haar dagboek is vol en al haar albums vorentoe bereik minstens platinumstatus; die meeste dubbelplatinum. Sy skep die een treffer album na die ander. Van die dubbelalbum Jy Is... (met ‘n bonus-CD waarop sy Pussycat se musiek sing) lewer die treffer Lepellê op in 2003. En Juanita word die eerste Afrikaanse sangeres wat die eerste plek op RSG se amptelike Top 20-treffersparade haal en drie weke agtereenvolgens boaan bly!
In die volgende vyf jaar verander die Meisie van Suidwes se lewe drasties. Die Du Plessis-gesin moet ‘n moeilike besluit neem, van hul geliefde moederland afskeid neem, Suid-Afrika toe verhuis en ‘n vesting in Pretoria vind. Met nog drie sekulêre albums – Bly By My, Jou Skaduwee en Volmaakte Kring, die gospelalbums Altyd Daar en Vlieg Hoog en die DVD’s In Konsert, Altyd Daar: Live op Aanvraag en Bring Jou Hart (in konsertduet met Theuns Jordaan) herskryf sy weer die Suid-Afrikaanse musiekrekordboek en behaal verkope wat die miljoenkerf verbysteek.
Elke noemenswaardige musiektoekenning is al aan haar toegeken ... |