As Jacques de Coning op die verhoog klim en sy kitaar begin tokkel kan jy jouself verseker van ‘n onpretensieuse aand propvol herinneringe en saamsing genot – in Afrikaans. Onthou jy nog die goeie ou dae en liedjies soos Lekker Ou Jan, Trompie, Boesmanland, Sarie Marais en Trein na Pretoria? Ken jy die woorde van Ska Rumba, Meisie Meisie, Ruiter van die windjie en Royal Hotel? Jy sal verbaas wees! As jy eers begin saamsing is daar geen keerpunt nie.
Jacques de Coning vermaak Afrikaners al vir meer as 21 jaar in kroeë en kuierplekke regoor Suid Afrika met sy sang en kitaarspel. Aldus hierdie trotse versameling van 88 Afrikaanse saamsing treffers. Die lewendige opname sal enige trotse Afrikaner, jonk en oud, op die tafels laat staan en luidkeels sing, dans en lag. Afrikaans het nie brieke nie!
Afrikaans my trots is Jacques se tweede album – op sy debuut CD kaniklani het hy bewys dat hy ‘n aanwins vir die musiekbedryf is met oorspronklike materiaal uit sy musiekpen. Girl van die Klein Karoo, Kom dans met my, Jannie mag nie koor sing nie en Coca-Cola koei het gou byval gevind in die mark. Met Afrikaans my trots bring Jacques hulde aan Afrikaanse musiek- en liedjieskrywers van Ouma en Oupa se dae tot nou. So ‘n ryk erflating moet geniet word en nooit onder stof begrawe word nie. Wat is die verskil tussen ou Afrikaanse liedjies en nuwes? Niks… Dit word net lekkerder met die tyd!
Jacques de Coning is Afrikaans en trots daarop! So praat (en sing) Afrikaans, of bly stil.




