Swart, gebore en grootgeword in Oudtshoorn. Gematrikuleer te Hoër Handelskool Langenhoven. Op skool baie “average” gepresteer op akademiese gebied, maar goed gepresteer op sportgebied. Na skool eers regte, en toe handelsbestuur gestudeer in Pretoria. “Drop-out”! Word toe ‘n professionele musikant – slaan die kitaar in ateljees, op verhoë, in kroeë en danssale regoor Suid-Afrika.
Ek word intussen ‘n belangrike skakel “agter die skerms” waar ek verwerkings, produksies en musiek-opnames vir baie kunstenaars doen. Ek tree as verwerker en kitaarspeler op saam met ‘n magdom kunstenaars, waaronder: Marcalex, The Passengers, Jack Hammer, Who’s News, Lance James, Clive Bruce en Lucas Maree; om maar net ‘n paar te noem.
Later begin ek ook Afrikaanse musiek komponeer en in Mei 1997 verskyn my eerste solo-album, Daar’s Lewe na Vyf, ‘n Afrikaanse “rock-album” met uiteenlopende style, maar ‘n akoustiese “rock-klank”. Alhoewel die kritici baie van die album gedink en die radiostasies dit baie gespeel het, was verkope maar effens teleurstellend. Ek het toe ‘n bietjie marknavorsing gedoen en gaan sit en begin skryf. In die nuwe styl was Liewe Lulu dan ook die eerste lied wat die lig gesien het. Ek het dit in my eie ateljee in Kaapstad opgeneem en vir ‘n paar mense gespeel om die reaksie te toets. Beslis postitief! Toe het die res van die album gevolg en is Liewe Lulu in April 1998 vrygestel, en soos hulle sê: die res is geskiedenis. Liewe Lulu het al meer as 100 000 verkoop, “and still going strong”!
Daarna volg nog ‘n album, Laat Waai, saam met die Hardloop-en-Vry-Orkes en ook Lulu Trek Wes ‘n paar maande later. Lulu Trek Wes het ook reeds meer as 50 000 eenhede verkoop. Ek word die eerste Afrikaanse kunstenaar ooit wat gelyktydig twee albums op die amptelike SA Top 20 het. Die kompetisie het oorsese kunstenaars ingesluit. In Maart 2000 is my volgende CD, Ching Chong Chow, vrygestel en het veral goeie lugtyd losgeslaan op gemeenskaps-radiostasies. ‘n Tweede album saam met die Hardloop-en-Vry-Orkes is ook uitgereik.
My volgende solo-album wat vrygestel is, met twee van die liedjies daarop; Om Totsiens te sê en Anna, het trefferstatus op RSG en verskeie gemeenskap-radiostasies bereik. Die CD het ook reeds goue status bereik.
Daarna het Pers Kombers gevolg en staan tans op platinumstatus. Ek het intussen my eie platemaatskappy, Blêr Musiek, gestig en verskeie albums het die lig gesien. Onlangse vrystellings is: Blackie Swart met Kielie My, Beeskraal met Plaasdorp, Just Jack met Wrede Wêreld, Blackie Swart & Manie Bodenstein met die koning van alle boeremusiek-albums, So Ry Die Boere, asook die GMT-genomineerde, Bobby van Jaarsveld (Ken jy Talina?), en verskeie ander CD’s en DVD’s. My nuutste Blackie Swart-projek is onlangs vrygestel. 40 Grootste Treffers, ‘n dubbel-CD met ‘n paar nuwe liedjies asook “re-mixes” van party vorige treffers.
Ten spyte van die dans/jol/partytjie-etiket wat Blackie Swart saamdra, kan geen mens voorbereid wees op wat by sy opvoerings aangebied word nie. Hy is immers al 25 jaar besig om gehore te vermaak en te beïndruk.




