Wanneer ‘n mens aan Arno Jordaan dink, kom daar outomaties ‘n hele klomp clichés in jou kop op … Soos dat hy nes ‘n goeie bottel rooiwyn is wat jaar ná jaar net beter word. Óf dat hy byna soos ‘n (singende) Griekse God lyk wat vroue knieë soos kerswas onder hulle laat wegsmelt ...
Feit bly egter staan – teen dié tyd kan ‘n mens nie meer anders as om van dié blonde boytjie, boorling van Port Elizabeth, notisie te neem nie! Hy het reeds met die verkope van sy debuutalbum (Altyd) gewys wat in hom (én sy stem) steek. En boonop is sy tweede album – Ek wil jou hê selfs nóg beter as sy eerste een. Binne slegs 9 weke het hierdie album 25 000 kopieë verkoop en is tans sterk oppad na Platinum status. EMI, sy platemaatskappy, is baie trots op hierdie produksie wat hulle die land in gestuur het!! So glo ons sal hulle ook net so trots wees op die volgende cd waaraan Arno tans besig is om te werk. Hierdie cd behoort teen einde September die lig te sien en dit beloof om nog beter te wees as sy voriges.
Almal wat hom hoor vertel dat sy stem die afgelope paar jaar aansienlik verbeter en ontwikkel het en sedert hy en sy sangmaat Susan in 2003 as naaswenners in kykNET se sangkompetisie Zing aangewys is, het baie water in die see geloop.
Arno se naam word deesdae met net soveel erkenning saam met ons bekendste sangers genoem .
Wat min mense van Arno weet, is dat hy boonop ‘n kranige rugbyspeler op sy dag was. Hy het die Oostelike Provinsie verskeie kere by die Cravenweek verteenwoordig. Maar ons is seker dat hy nie ‘n fout gemaak het die dag toe hy sy rugbytokse vir ‘n mikrofoon verruil het nie!
Dié 23-jarige ster woon deesdae in Pretoria en hy toer die hele land vol. ‘n Tekort aan besprekings vir optredes is daar beslis nie! Hy is ook ‘n bekende en gewilde gesig by die verskeie feeste. Arno geniet die kunstefeeste baie. Dit gee goeie blootstelling aan die kunstenaars, maar wat vir hom nog beter is, is die interaksie met die publiek. Hy kry die geleentheid om die publiek en sy aanhangers van nader te leer ken en dit gee ook sy aanhangers die geleentheid om Arno, die gewone mens te leer ken.
Die ongelooflike eer het hom te beurt geval om al drie keer die afgelope tyd die Volkslied by die internasionale rugbywedstryde in Suid Afrika te sing. Hy word selfs deur die media die “blonde mascot” van die Springbokke genoem.
S.A. Rugby het hom ook genomineer om die lied “The Time is now” wat die amptelike Springbok wêreldbekerlied is, te sing en elke keer wanneer die Springbokke op die veld hardloop met ‘n wedstryd, word hierdie lied gespeel. Werklike ‘n groot trots vir hierdie kunstenaar. S.A. Rugby het ‘n Springbok rugby cd uitgebring waarop hierdie temalied is asook een van sy gewilde liedjies “Vanaand weer ek en jy”.
Arno het sopas teruggekeer van ‘n suksesvolle toer in Namibia waar hy 5 konserte gehou het, tot sover as Rundu! Die mense van Namibia het hom wonderlik ontvang en hy het daar in almal se harte gekruip en het beslis sy merk gemaak, ook daar, buite die grense van Suid Afrika. Hy is reeds weer genooi om aanstaande jaar daar te gaan optree.
Sy program met betrekking tot optredes in Suid Afrika is baie vol bespreek en daagliks kom daar nog navrae en besprekings in. Hierdie mannetjie is nog baie jonk in die bedryf en daar wag beslis ‘n blink toekoms vir hom in die musiekbedryf!! Hy is nie bang om hard te werk om sy loopbaan te bou nie en sit alles in om dit te bevorder. Hy is beslis hier om te bly, so hou hom gerus dop – hy gaan dit nog vérbring!!! |