Die sanger André Swiegers is 14 Februarie 1958 in Brakpan gebore, het ook daar skoolgegaan. Hy onthou hoedat hy Sondae aande na die LM-hitparade in sy bed lê en luister het, en kunstenaars soos Elvis, die Beatles, Rolling Stones, Beach Boys, Simon & Garfunkel ontdek het. Koop sy eerste kitaar in 1974 vir R17.50 en begin geesdriftig akkoorde leer en songs te skryf in Engels.
Gedurende 1976 doen hy militêre diensplig. Ontvang sy basiese opleiding in Potchefstroom, lê ook die lugmag vlieënierstoetse in Pretoria af, en slaag, maar besluit om nie met sy vliegopleiding voort te gaan nie. Hy word later verplaas na JARIC (Joint Air Reconnaisance Intelligence Centre, Zwartkop Lugmagbasis) waar hy as fotovertolker gedurende die Angola-grensoorlog diens verrig het.
Aanlegtoetse het daarop gedui dat André 'n kursus in argitektuur of beeldende kunste behoort te volg. Hy het egter teen die voorgestelde opsies besluit en vir 'n BA (Sielkunde & Bybelkunde) kursus ingeskryf (1977). Sy finale eksamens (1979) moes eers wag, aangesien André genooi is om die hoofrol teenoor Sonja Heroldt te in die film "Sing vir die harlekyn" te vertolk. Gedurende hierdie tyd het hy vir Anton Goosen ontmoet - wat meeste van die musiek vir die film geskryf het. André het sy finale eksamens saam met die her-eksamens afgelê en sy graad behaal.
1980. Hy besluit om sy stokperdjie as "signwriter" sy dagberoep te maak, en doen sy eerste "professionele" musiekoptrede by die Stasie Hotel in Brakpan en word R10 beloon vir die optrede. Sy dagberoep brei uit en hy raak al hoe besiger met musiekoptredes in die aande. Desember 1985 trou hy en verhuis 2 jaar later na Pretoria (waar hy steeds woon). Hulle eersteling (Jean) is 4 Oktober 1989 gebore, en Emile op 29 Julie 1991.
Die voorstel van 'n vriendin aan hom, om meer in Afrikaans te skryf en te sing, het aanleiding gegee tot die song "Blou". Laurika Rauch het dit aanvanklik opgeneem, en 12 jaar later het André en Réana Nel dit weer as duet opgeneem.




